Uitgestres tot vervelens toe
Diep bewus dat ek 'n keuse het
Soekend, nadenkend, verwese, verward
Waar is my lewe wat ek ken en vertrou dan heen?
Here, ek staan steeds elke dag vroeg op.
Word biddend wakker in U teenwoordigheid
Waarom is ek dan so soekend, alleen, uitgeprop?
Waarom het die as ophou draai?
Die wiele in my kop hou aan draai, draai, draai
Momentum en deugsaamheid ingeprent
Buigsaam, aanpasbaar, bereidwillig
Waarheen spin ek dan heen?
So jaag ek soggens en saans oranje horisonne.
want ek weet dat U die begin en die einde is.
Wat dan Here van die donker nag?
Wanneer niemand niks kan sien nie?
Here, wees my genadig, gefokus op U.
In 'n warboel tans onbegonne
Soekend, biddend, opgewonde, verwese, verward
na U koms op oranje horisonne.
Sonder dat ek hoef te wonder of te beplan
Sal die oranje deurbreek soggens en saans
Selfs al het ek my laaste een aanskou
Weet ek daar is altyd steeds oranje horisonne
Magda Maas
Sonsak in die weste wat nie lei tot luiaard op sy beste… Foto: Magda Maas
Magda Maas is ‘n Christelike Indie Skrywer wat op haar 50ste verjaarsdag haar hakskoentjies uitgetrek het en die Drakensberg Berge ingevaar het om te skryf nadat sy jare lank vroue in Pretoria met praatjies en gebed gehelp het.
Oor die laaste paar jaar het sy vroue van vandag deur haar Facebook Grepiesblad en Blog inspireer om stof te skop in die vyand se gevreet deur hul te bemagtig om hul plek saam op die mure van Jerigo in te neem.
Sy is ‘n beroerte survivor met 'n storie om te vertel van haar wedergeboorte tydens hierdie gebeurtenis en hoe sy haar lewe daarna opgeteken het. Sy skryf oor dinge wat haar hart aanraak en wat sy ervaar deur die lewe om haar en natuurlik hoe ongelukkig mense aanlyn is.
Sy het ‘n diep vertroue in haar Hemelse Vader en spandeer baie ure in stille gebed. Sy neem haar rol en posbeskrywing as vreeslose Spreuke 31 vrou baie ernstig op.
Haar passie om vroue se trane en moedeloosheid raak te sien is wat haar geinspireer het om die Bietjie Magrietjie reeks te skryf. Sy is ‘n uitgespoke dogter van God, Vrede Vorstin, getroud met haar sielsmaat, ma, skoonma en ouma. Sy word omring deur 'n legioen van sterk vroue wat in haar lewe insae het.
Sy is dol oor kreatiewe orde en die effektiewe besteding van tyd is vir haar uiters belangrik soos vertel in haar boek Beplan ‘n Bietjie Magrietjie.
Dit is haar missie om te dien in Afrikaans met 'n bietjie humor en padlangse gesprekke soos op haar Blog. Haar skrywery gaan oor lag met 'n traan, vloek sonder om vieslik te wees en bid tot jou knieë blou word en dan op te staan en jou plek in te neem.
Beskou all artikels deur Bietjie Magrietjie