“Ag, hoekom moet ek tog so suffer…”

As jy ouer as 40 is weet jy beslis wie se woorde ek hier aanhaal.  Sy is Antie Stienie van ‘n TV reeks Agter elke man (hoe ironies),  van die middel  80’s.  Antie Stienie, bekend as die ontevrede, afgeleefde ma wat in ‘n huis met dieselfde karakter trekke gewoon het.  Sy het op die stoep gesit, klaend oor haar lot, terwyl sy lang trekke van haar sigaret neem, opgedos kompleet met krullers in die hare en vuil voorskoot, sugtend oor die lewe en dikwels vra sy… “Hoekom moet ek tog so suffer…”

Haar kinders het haar in haar opinie teleurgestel en sy het met afgeremde mondhoeke haar lot bekla terwyl sy oor die tuinhekkie hang tot groot vermaak van die kykers, wat dikwels met haar identifiseer het. Dit is nou 35 jaar later en steeds word daardie woorde gehoor, net op ander maniere (soos, ek is op, klaar met die lewe!), maar helaas die betekenis bly een van suffering.  

Ek wil vandag graag vir Antie Stienie (met permissie) voorhou as wat ek dink deesdae (soos vroeër) skeefgeloop het met die beeld van ‘n Christen vrou.  Daar is soveel waarskuwings in die Woord oor ‘n klaende, ontevrede vrou, soek dit op, dis daar!   

Dalk moet ek jou op hierdie punt vra om jou hoof te buig en die Heilige Gees te vra om asseblief tog vir jou te openbaar wat ek verder gaan skryf, dis vir my belangrik om hierdie boodskap oor te dra soos wat dit aan my openbaar is en wil werklik hê dat jy my hart vir jou moet sien, liewe vriendin.

Liewe vrou, om Afrikaans gebore te word en kerk toe te gaan maak nie noodwendig van jou ‘n Christen vrou nie.  Of jy nou saam die Voortrekkers oor die Drakensberge op ‘n plaas geland het of in Hillbrow (soos ek) gebore is, gee jou geen voordeel of voorsprong nie, dit gee jou ook geen agterstand of ekstra suffering nie.    

Hier is ‘n maklike toets om die vraag te antwoord of jy weet wat Christenvrou beteken.

 Wat skryf jy in op vorms waar hulle jou kerk verband vra?  Jou gemeente se naam? Jou of jou ouers se geloof?

As jy nie kerk toe gaan nie en jy het niks meer te sê as om te murmureer oor jou lewe nie, maar het in ‘n huis grootgeword waar daar ‘n Bybel op die bedkassie of die eetkamer tafel was, maak dit jou by default ‘n Christenvrou?  Maak jou atestate wat iewers by een of ander gemeente lê, jou ‘n Christenvrou of beteken dit net dat jy deel is van hul “boeke”?   Dink baie mooi wat ek jou hier vra.

Meeste van ons ouderdom (ek is in my 50’s) en ouer is voorgestel en aangeneem en het ons kinders gedoop en ingelyf in ‘n kerk (dikwels tot groot stres van die kind, want in jou jeug verstaan jyself nie eers hoekom nie en nou vra jou kind jou hoekom).

Dit is ‘n hengse aanhaling om te maak, maar in my opinie het Antie Stienie nou nie juis die moeite gedoen  om te hoor wat haar Here vir haar te sê het en in haar stryd om oorlewing het sy dalk nooit die geleentheid gehad om werklik tyd te maak vir toewyding aan God nie (ek weet dit was net ‘n storie).  Of sy haar Bybel gelees het kan ek nou nie sê nie, maar of sy probeer het om te verstaan wie sy is in Christus, sou haar baie beter laat voel en haar lewe (en huis) sou in ‘n baie beter toestand gewees het.

 Alvorens jy jou voorskoot afruk, jou bolla opklits of jou nail art afchip, laat my verduidelik.

Soos ek in ‘n vorige blog vertel het is ‘n Christen vrou se eerste prioriteit nie haar ouers, lewensmaat, kinders, vroue groepies en netwerk nie, dit is om te leer om haar Verlosser te ken en Hom te vertrou.

Met die toevoeging van die internet tot ons lewens gil mense van ons generasie oor die boosheid en conspiracy theories. Ja, ek stem saam daar is vieslike, lelike, onnoembare dinge in die swart gat, maar weet jy wat, die Evangelie kon nog nooit soveel mense dadelike bereik soos juis nou nie. 

My vraag is dus, wat lees jy?  Waaraan spandeer jy tyd? Het die tv jou ingesluk?  Watter kanale?  Het jy ‘n Bybel? As jy nog altyd een gehad het, hoekom het jy dit nie gelees nie? Lees jy hygromans of kyk jy swyg programme?

Ons het almal as jong vroue (ek ook!) “Lovies” gelees (vir ontspanning het ons dit genoem), maar watter doel dien daardie boeke later in jou lewe waar jy in verskeie skakerings van grys eintlik niks wyser word nie.  Onthou, ek praat met volwasse vroue hier, daardie vroue waarna God verwys in sy Woord in Titus 2.     

Dis nie Antie Stienie se kinders wat haar laat suffer nie, dit is die sameloop van die lewe en haar onvermoeë om te besef dat kerk toe gaan jou nie God se hart laat ken nie.  God is nie ‘n towenaar nie, Hy gaan nie ‘n towerstaffie swaai en skielik ken jy Hom nie.  Hy gaan jou nie na ‘n kweekskool nooi soos Hofwarts nooi en jou tricks leer nie. Hy is ook nie ‘n paniek knoppie wat met gebed geaktiveer word nie.

Hy het jou geskape met vrye wil en probeer jou dan leer om jou vrye wil te gebruik om Hom te eer.  As jy nou hier lees en dink, maar maak dit my dan vry, dan my liewe mens het jy nog te min gelees en gebid, gaan terug en lees wat het Jesus Christus vir jou gedoen, dan kan ons weer van vrye wil praat. 

Dit is jou Godgegewe werk om die vaandel op te neem, sout, lig, vrede, vreugde en balans in die huis te bring, onvoorwaardelik.  Adam is mooi groot, hy moet maar self pa staan vir sy besluite, bly jy net op jou knieë. Moet jou nie inlaat op dwase strydvrae of ‘n sinnelose getwis oor geslagte, wette en sielkunde nie. 

As jy tot geloof gekom het liewe vrou, lê jou toe op nuttige, goeie werk omdat jy ‘n voorbeeld is vir enige een wat na jou kyk.  ‘n Huwelik, kinders grootmaak, lewe bou, spaar, omsien na jou wêreld om jou, kan jy net doen met God se hulp.  Sodra jy vir Jesus Christus as jou Verlosser aanvaar, kan jy maar daardie krukke eenkant sit, jy het opgestaan uit die as en kan nou leef met oorgawe.  God vra jou nie om die hele wêreld uit te sorteer nie, Hy vra net dat jy die beste voorbeeld moontlik kan wees sodat Hy jou kan seën uit Sy skatkamers net daar waar jy is!

Die maatstaf van jou godsaligheid is nie gebaseer deur jouself te vergelyk met ander vroue nie.  Charity begins at home, hoor ons, maar ons vergeet dat om te groei moet jy begin by jouself! 

Dalk het ek jou vandag kwaad gemaak, dalk het ek jou ontstel, ek hoop jy lees steeds hier, want hier is wat ek vir jou wil sê liewe vrou, dit is tyd dat Suid Afrika se ouer vroue opstaan, hul lewens uitkyk verander en ophou bankhand staan vir aandag aalmoese van ander mense af. 

Neem jou plek op die mure van Jerigo in en weier dat enige iemand jou enige iets anders wysmaak as dat die Here jou God JOU liefhet en jou sondes aan die kruis saam met Jesus Christus gespyker het en dat jy vry is om keuses te maak, maar helaas, STAAN OP en hou op murmureer. 

As jy aanhou om geestelik te groei op jou eie tyd en pas in Christus, sal jy baie nader kom aan wat die ware prioriteite van ‘n Christen vrou is.  Jy gaan nie elke dag ‘n perfekte tien bereik in jou gemoed en jou uitdra van wie ‘n Christen vrou nou eintlik is nie, maar probeer ten minste!  Deur egter elke dag staps gewys op God te vertrou, sal jy dieper volwassenheid behaal in Christus.  Hou met die hulp van die Heilige Gees by!  

Jy moet leer om jou vertroue in God te stel, nie net vir die ewige lewe nie, maar ook met die doel en rigting vir die lewe op hierdie aarde.  Hier is ‘n paar punte waarop ek in Bid’n Bietjie Magrietjie (hou my blog dop vir uitreikdatum) uitbrei….

  1.  ‘n Christen vrou het ‘n Bybel wat nie op die bedkassie lê nie.  (Lees Matt 4: 4)
  2. ‘n Christen vrou dra ‘n kalmte en stilte van gees uit en is nie ‘n Drama Mamma nie (Lees: 1 Pet 3: 4)
  3. ‘n Christen vrou het moed en krag want sy weet Wie haar dra. (Lees Josua 1: 9)
  4. ‘n Christenvrou is meedoënloos in gebed en voorbidding. (Lees 1 Tes 5:17).
  5. ‘n Christen vrou is vrygewig met haar geloof en oortuiging en haar besittings. (Lees 2 Kor 9:11)
  6. ‘n Christen vrou is wys. (Lees Spr 31:26)
  7. ‘n Christenvrou bely haar foute. (Lees Ps 38:18.)
  8. ‘n Christenvrou is lighartig en behou haar humor. (Lees Spr 17:22)
  9. ‘n Christenvrou is deugsaam en deeglik in haar dagtaak. (Lees Pred 9:10)
  10. ‘n Christen vrou vergewe net so maklik as wat sy vergewe is deur haar Vader. (Lees Kol 3:13)

Shalom liewe vrou, ek bid vir ieder elk van julle.

@bietjiemagrietjie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.