Hey Pliggie! Sit ‘n bietjie Magrietjie!

Liewe mens, vandag wil ek graag iets deel met alle “pliggies”, jy weet mos, daardie “overachievertjie”-Spreuke 31vers 10-31-vroue. Ek noem dit vroue, want ek het nog nie ‘n pliggie man ontmoet nie. (No offense manne, hierdie is vir ‘n spesiale “breed” vroue..). Vreemd (of dalk nie…) is hulle gewoonlik Afrikaans-sprekend.

In my ervaring is deel van pliggie wees ‘n self-opgelegde en oor-ontwikkelde sin vir oormatige verantwoordelikheid. Dit is nie ‘n manier van doen omdat jy skuldig voel nie, so as ‘n pliggie raas dat jy nie jou kant bring nie, moenie eers daaraan dink om haar skuldig te laat voel nie! Vir haar is dit slegs ‘n manier om tyd tot oorlopens toe vol te stop met dinge wat sy dink (en onomwonde glo), is belangrik om die stres uit ander se lewens te haal. Kortom, dit is ‘n manier van “wees”, wat uiters selfsugtig en moeilik voorkom, maar totaal verkeerd verstaan word.

Soveel is al geskryf oor tipes persoonlikhede. Vir my is pliggie wees nie ‘n tipe persoonlikheid nie, vir my is pliggie wees ” all of the above”. Voor jy die toezip poeliste stuur om my weg te vat, lees eers klaar.

Dit beteken nie jy het verskillende stemme in jou kop of persoonlikhede wat spring van oulik, tot kwaai tot gefrustreerd nie! ‘n Pliggie ervaar tyd en die dag baie meer chaoties as dit, want sy hoor haar eie stem uit 10 rigtings! Dit is op sigself ‘n warboel van wat jy dink jy moet doen en hoe jy dit gedoen gaan kry voor jy jou kop neerlê. Pliggies is nie beter as ander, slimmer as ander of selfs meer opgelei as ander nie, hulle is ook nie meer gelowig of “Jesus se witbroodjies nie”, pliggies is net tot moegwordens toe baie, baie gewillig. Pliggies werk nie tot sy moeg is nie, sy werk tot sy klaar is.

Miskien as mense verstaan dat die hoofdoel wat enige pliggie dryf is om hard te werk sodat ander kan rus en ontspan omdat pliggies gewoonlik ‘n baie sterker pyndrumpel het en gesonder is. Dit is verseker nie ‘n manier om raakgesien te word en geprys te word nie. Ek werk, want ek hoop dat ander ook gaan sien dat ek ‘n ruskans nodig het, maar liewer sal omval voor ek vra! Ek raak dikbek en grimmig uit frustrasie en soms plein omdat ek moeg is om vir almal te dink.. Pliggies werk, want dit is haar manier om sin te maak oor hoekom sy nooit by haar drome uitkom nie. Dalk is dit ‘n manier van wegkruip?

Prediker 5 vers 2 se: “baie doenigheid bring drome, baie praat lei tot onverstandige woorde…”. Let op dat dit nie sê dat dit lei tot sukses nie!

Hoeveel keer praat ons nie van “brainstorming” nie. Daar word idees rondgegooi, drome gedroom en planne gemaak, geweeg en aan die gang gesit. Wel, om pliggie te wees is een laaaaaang “brainstorming” sessie, heeldag, elke dag (en dikwels deur die nag ook). Madam Pliggie se kop is gedurig besig om op die een of ander manier deur die dag se take te kom en nuwe goed uit te dink en sommer werk vir ander ook! Sy kan dit nie help nie!

As pliggie is ek al dikwels ‘n slawedrywer of ‘n “work creation project” genoem. Daar word self geskimp dat pliggies ander mense uit hul werk wil werk. Regtig? As ek afkyk na my hande, sien ek net hande wat vir niks verkeerd staan nie en wat ek nie kleinkry nie, is hoekom dit vir my voel as ek nie leiding neem word niks gedoen nie en sit op die stoep en staar die nuwe manier van droom is… nes almal droom oor hoeveel lewens hul gaan verander as hul “net die lotto kan wen”…

Nee man! Hoe reis jy as jy nie oppad is nie! Om rond te beweeg en nuwe dinge te doen beteken nie jy kan nie jou mind opmaak nie. Waar bly jy as jy nie werk het nie? Hoe beweeg jy vorentoe as jy net stilsit, jou ore spits en wens jy kry iets?

Here, U moet my asseblief lei. Ek is moeg van hoor ek moet “rustig” raak, dinge sal in plek val. Ja, dalk my kop kan ek by U voete sit en kalmeer, maar sowaar soos ‘n padda ‘n manel dra, die pliggies raak agter, want die werk word meer, want die bereidwillige hande minder! Pliggies is nie dromers nie, maar ons het ook planne.

Ek droom van die dag wat my deugsaamheid nie ‘n doring in my vlees is nie. Gaan sit ek Here, vra almal my of ek dan siek is, of is ek nou weer in een of ander “bui” of erger nog, menopause….

Wanneer dan Here gaan ander se weghol en wegkruip keuses nie meer op my bord gepak word wat ek nog elke dag moet was ook nie! Waarom kan mense nie met minder oor die weg kom nie? Ek is anders Here, ek is ‘n kleine kriek wat skree dat dit bars, maar dit stop nou en as die pap op die grond val, gaan ek dit nie optel en afskud nie.

Rebel-Pliggie

Liefde

(c) #bietjiemagrietjie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.