Dancing queen…

Saterdag aand kry ek ‘n whatsapp foto van ‘n kosbare vriendin wat by ‘n ABBA vertoning was. Al wat sy gestuur het was die enkele foto sonder enige boodskap by….maar helaas sy hoef niks verder te verduidelik nie.

Sien, ek en hierdie mens is as totale vreemdelinge 2 jaar gelede saam tussen ‘n klomp tieners losgelaat om na hul geestelike ontwikkeling om te sien. Ek los jou so rukkie om te wonder of dit ‘n goeie of gevaarlike besluit was….

Die héél eerste oggend laaaaank voor die son opkom, staan ek en sy onafgespreek, stilletjies op en sluip uit die dogters se slaapsaal. Soos een vrou vat ons ons goetertjies en paddle in ons pajamas af na die gesamentlike badkamers voor die meisies wakker word en die water opslurp om nie eers van die spieëls te praat nie. Oppad sit ons solank die urn aan vir warm koffiewater. In my geval turbotee vir energie!

Gelukkig is beide van ons nie vreeslik erg oor tittewyt nie en tjoef-tjaf kry sy haar krulle wat hul eie lewe by die see het in toom en gryp ons ‘n vinnige koffie en daar gaat ons…want sien….ek en my maatjie het ‘n diep hunkering na God se Stem wat breek en donder in die branders op die TO Strand….

Ons het so min tyd vir onsself dat ons slaap opgee om die meeste te maak van daardie kosbare uur terwyl die son oor die water opkom. Soos ons gesels en stap, 2 stelle spore op die gladde sand, jy kan jou selfs verbeel jy sien Jesus se spore ook, want ons weet Hy is daar en luister na ons.

Soos ons gesels, deel ons frustrasies, pakkasies en otterjasies en pink selfs ‘n traan of wat.

Die eerste jaar was ons baie strenger met onsself, want dis mos hoe ‘n antie moet wees, maar jaar 2 het ek en my tentmaatjie anders gemaak (jaar 2 het ons ‘n tent gedeel en dit het baie gereën, daai is ‘n anderdag se storie).

Daardie jaar het ons als gegee, nie net vir die kinders nie, maar ook om maksimum uit ons 12 dae, een keer per jaar vriendskap te haal. Ek het dan selfs soos Hulk se ma aangetrek! Ons twee was die jaar die oudste op die kamp – ek by verre…..

Een van die aand programme wat ons as groep aanbied, is karaoke en ek weet nie wat gebeur in ‘n mens se brein nie, maar as iemand daardie blink mikrofoon in jou hand sit en die speletjie begin tel, dan trek jy weg en sing ‘like nobody is watching”! Sommer mer ‘n danspassie of twee by!

Dit was sekerlik een van die bevrydendste oomblikke in my lewe! Reg bo-aan die lysie waarop ek ook het die eerste keer toe ek op amper 45 in my Bybel onderstreep het sonder dat ‘n bliksemstraal my tref en dit met ‘n pen nogal!

Jy sien, mens vrees dikwels iets wat nie eers saak maak vir ander. Jy is bang jy maak jou naam gat of dat jy dit gaan opflop omdat jy nie kennis en ondervinding het nie. Is die punt van karaoke nie juis om ‘n gat van jouself te maak nie? Die perfekte platform om te maak asof jy nie die kattemaai hoor nie. Raai wat, hoe meer jy perform hoe meer geniet jy dit en jy steek onwetend ‘n vuurtjie aan in ander ook.

Maar ai, as jy besef dat dit net jyself is wat jou so kasty en ander mense se gerekte oë en upstairs neuse kan ignoreer is die verligting en bevryding absoluut LIEFLIK!

Lewe uit vólle bors!

Gryp die dag aan en skud als uit hom uit wat jy kan! Laat ‘n paar ape uit die mou en skud hulle sommer ook aan die nek! Maak nie saak of jy vals of vet, lelik of plat is nie, jy is absoluut uniek en niemand kan ‘n sonskyn lewe ignoreer nie.

Laat jou lig skyn sodat ander mense net nader en nader aan jou wil wees sodat hul kan voel hoe heerlik is dit om ‘n lig binne jou te hê wat nooit verflou of uitbrand nie.

Selfs in ‘n yslike groot donker saal kan jy die vlam van een ou kersie raaksien en ja…..daar sal altyd mense wees wat jou tjank gaan aftrap of jou snaaks gaan aankyk, maar bowenal, gaan hulle wens dat hulle die mikrofoon gevat het en Dancing Queen gekies het op n karaoke masjien saam ‘n tentmaatjie voor 40 tieners op ‘n kerk kamp…

Shalom

Maggs

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.